FA Cup

FA Cup
2025–26 FA Cup
Beskrywing.
Die FA Cup Trophy

Sportsoort Sokker
Gestig 1871
Eienaar Football Association (die Engelse Sokkervereniging)
Inwydingseisoen 1871–72
Deelnemende lande Engeland, Wallis
Aantal spanne 745 (2024–25)
Mees onlangse kampioen Vlag van Engeland Crystal Palace FC
Verwante kompetisies FA Community Shield,
UEFA Europa League

Die FA Cup is ’n jaarlikse uitklop-sokkerkompetisie in Engelse sokker. Dit is die oudste nasionale sokkerkompetisie in die wêreld en is die eerste keer gespeel tydens die 1871–72-seisoen.[1] Die kompetisie word georganiseer deur en is vernoem na die Die Engelse Sokkervereniging (Engels: Football Association, afgekort as FA).

Die kompetisie staan oop vir alle in aanmerking komende klubs tot vlak 9 van die Engelse sokkerliga-stelsel, met vlak 10-klubs wat as plaasvervangers optree indien daar geen inskrywings van hoër vlakke is nie. ’n Rekord van 763 spanne het in 2011–12 deelgeneem.[2] Die toernooi bestaan uit 12 lukraak getekende rondtes, gevolg deur die halfeindstryde en die eindstryd. Inskrywings word nie gesaai nie, alhoewel ’n stelsel van vrylatinge, gebaseer op liga-vlak, verseker dat hoër geklassifiseerde spanne later instap – die minimum aantal wedstryde wat gewen moet word, hang af van die ronde waarin ’n span begin, en wissel van ses tot veertien.

Die eerste ses rondtes vorm die Kwalifiserende Kompetisie en word gespeel deur klubs in die National League System (vlak 5 tot 10 van die Engelse sokkerstelsel – dikwels nie-Liga genoem). 32 van hierdie spanne dring deur tot die eerste ronde van die Hoofkompetisie, waar hulle 48 professionele spanne van League One en League Two ontmoet. Die laaste deelnemers is die 20 Premier League- en 24 Championship-klubs, wat in die derde ronde se loting inkom.[2] In die moderne era het slegs een nie-Liga-span ooit die kwarteindstryd gehaal, en geen span onder vlak 2 het nog ooit die eindstryd bereik nie. Gevolglik word daar dikwels groot aandag aan kleiner klubs geskenk wat ver vorder – veral wanneer hulle verrassende “reus-doder” oorwinnings behaal.

Om die eindstryd te haal, wat elke jaar in Mei op Wembley gespeel word, is ’n begeerde doelwit in Engelse sokker, veral vir minder welaf klubs. Die eindstryd word beskou as een van die belangrikste jaarlikse klubwedstryde in Europa, naas die eindstryd van die UEFA Champions League. Tussen 2001 en 2006 is die eindstryde van die FA Cup by die Millennium-stadion in Cardiff gespeel, terwyl die Wembley-stadion gesloop en herbou is.

Die wenners ontvang die FA Cup-trofee, waarvan daar twee ontwerpe en vyf werklike bekers bestaan; die nuutste is ’n 2014-replika van die tweede ontwerp wat oorspronklik in 1911 ingevoer is.[3] Die wenners kwalifiseer ook vir die UEFA Europa League en kry ’n plek in die komende FA Community Shield, en wedstryd wat in Augustus op Wembley gespeel word, waar die FA Cup-wenners die kans kry om teen die Premier League-wenners te speel. Dit is onder die voorwaarde dat die FA Cup-wenners nie ’n sogenaamde dubbel gewen het nie – in daardie geval speel die FA Cup-wenners teen die naaswenner van die liga.

Arsenal is die mees suksesvolle klub met veertien titels (laas in 2020), terwyl hulle voormalige afrigter, Arsène Wenger, die suksesvolste bestuurder in die geskiedenis van die kompetisie is met sewe titels.

  1. "Oldest football cup 'not for sale'". BBC News. 14 Oktober 2014. Geargiveer vanaf die oorspronklike op 5 November 2017. Besoek op 4 November 2017.
  2. 2,0 2,1 Faulkner, Bryan (13 Julie 2022). "Rules of the FA Challenge Cup 2022–23". The Football Association. Geargiveer vanaf die oorspronklike op 18 Augustus 2022. Besoek op 18 Augustus 2022.
  3. "FA Cup reborn for 2014 final as new trophy is cast". BBC News. Geargiveer vanaf die oorspronklike op 4 Oktober 2016. Besoek op 30 September 2014.

From Wikipedia, the free encyclopedia · View on Wikipedia

Developed by Nelliwinne